Ek stuur 'n skilferkorsmelktert per e-pos aan enigeen wat een van die volgende vrae tot my bevrediging kan beantwoord:
Die kwantumteorie bepaal 'n foton se energie as E = h × f, met h Planck se konstante en f die foton se geassosieerde frekwensie. Rooiverskuiwing verlaag laasgenoemde. Waarheen verdwyn die energie? (28/7/98)
Die buitenste sterre in spiraalstelsels wentel stadiger as dié nader aan die kern. Hulle behoort dus al hoe verder agter te raak om sodoende die spiraalstruktuur te vernietig. Hoekom gebeur dit nie? (21/11/98)
Laat weet tog indien enige vraag op 'n wanbegrip berus. Ek vra hulle omdat ek nie die antwoorde ken nie!
Supernova-waarnemings lei tot "deurbraak van die jaar"
Gedurende 1998 het twee internasionale navorsingspanne onafhanklik van mekaar bevind dat die heelal al hoe vinniger uitdy. Die resultaat is intussen herhaaldelik bevestig. Die bevinding is so onverwags en het sulke verreikende gevolge dat die tydskrif Science dit as Deurbraak van die Jaar beskryf.
Die algemeen-aanvaarde model van 'n heelal waarvan die volume weens swaartekrag al hoe stadiger toeneem, word deur hierdie bevinding op sy kop gekeer. Tot dusver was die vraag of die heelal genoeg massa bevat om die uitdying om te keer. Nou onstaan veel moeiliker vrae en 'n soeke na 'n nuwe model. Watter vreemde krag is hier aan die werk? Watter effek gaan hierdie 'anti-swaartekrag' in die toekoms op die mensdom hê?
Oor die antwoorde op sulke vrae kan ons nou maar net spekuleer. Fantasieskrywers sal hard moet begin dink aan nuwe idees; die waarheid is vreemder as fiksie. Op een ding sal ek wed: dit is sekerlik nie die laaste keer dat ons van hierdie bevinding hoor nie.
INFERNO
Ek het 'n nugter woord gehoor:
dat al die sterre uit sal vlug
uit hierdie soet geselligheid
van melkweg en van ligte lig,
hul wye kringe wyer word
en uitreik na die duisternis
wat buite lê en wrokkend nog
opstandig teen die saam-wees is;
dat die groot koordans wat hulle dans
traer sal word tót hulle staan,
en soos groot slakke weg sal sleep
na koue hoeke uit die baan,
en daar, onmeetlik uitgewyk,
elkeen sy eie grou gebied
met dowwe gloed en eensaam haat
in selfgenoegsaamheid besit.
NP VAN WYK LOUW, Nuwe Verse (1954).
Onvergeetlike meteorereën voorspel
Hierdie November moet jy jou wenslysie gereed hê: volgens berigte kan die Leonides 'n onvergeetlike skouspel oplewer. Voorspellings vir die hoogtepunt van die meteorereën wissel van 200 tot meer as 10 000 meteore per uur. Dit sal lyk asof die meteorestroom vanaf 'n punt in die sterrebeeld Leo uitsprei. Dié punt word die radiant genoem.
Die meteorereën sal sigbaar wees vanaf 14 tot 21 November 1998, tussen middernag en dagbreek. Die hoogtepunt sal vermoedelik bereik word om 21:00 op 17 November, met 'n paar uur se onsekerheid na beide kante. Vir goeie waarnemings moet die radiant egter bo die horison wees. Dit impliseer 'n beste kykgeleentheid tussen 3:00 en 4:00 op 17 of 18 November.
Die radiant se posisie, soos waargeneem vanaf Stellenbosch om 4:00 op 18 November, word in Figuur 1 aangedui. Dit gee ook 'n benaderde aanduiding vir die res van Suid-Afrika. 19 November se nuwemaan waarborg boonop 'n donker hemel. Al waarvoor ons nog kan hoop is wolklose nagte!
Meteore is in die volksmond bekend as verskietende sterre. Dis nie werklik sterre nie, maar stukkies rots of yster (of 'n mengsel daarvan), genoem meteoriede, wat in die atmosfeer uitbrand. Meteoriede beweeg teen tussen 10 en 75 km/s, relatief tot die aarde, en brand gewoonlik uit tussen 80 en 120 km bo die aardoppervlak. Wanneer stukkies materiaal wel die grond bereik, staan dit bekend as meteoriete. Baie helder meteore word vuurballe genoem. Dié wat ontplof heet bolides.
Materiaal wat van 'n komeetkern breek, versprei in die komeet se wentelbaan. Indien die aarde so 'n komeetbaan kort vóór of ná die komeet se verbykoms kruis, word hewige meteorereëns soms ondervind. Hoewel die meteoriede parallel inval, word die radiant-verskynsel weens perspektief waargeneem.
In die Leonides se geval kruis ons die baan van die periodiese komeet Tempel-Tuttle (komeet 1866I, nou bekend as 55P/Tempel-Tuttle). Hy het in Februarie perihelion (sy wentelbaan se naaste punt aan die son) bereik. Sy periode van 33¼ jaar lei tot aanskoulike meteorereëns met dieselfde periode.
Anders as die meeste liggame in ons sonnestelsel, roteer Tempel-Tuttle antikloksgewys om die son (waargeneem vanaf 'n punt noord van die ekliptiese vlak). Dit lewer 'n hoë relatiewe spoed van 72 km/s wanneer die meteoriede die aarde se atmosfeer binnedring. Figuur 2 is 'n voorstelling van sy wentelbaan, relatief tot dié van die aarde en ander binneplanete.
Die planeet Jupiter gaan Tempel-Tuttle se wentelbaan in 2029 sodanig versteur dat die Leonides waarskynlik tot 2098, of selfs 2131, vir aardlinge verlore sal wees. Vanjaar se geleentheid is nie te versmaai nie.
Verwysings
Colin A Ronan en Storm Dunlop, 1993. The Skywatcher's Handbook, Marshall Editions Limited, London. (ISBN 1-85648-119-0)
Thomas R Ligon, 1994. Dance of the Planets, weergawe 2.71, ARC Science Simulations, Loveland, CO.
Indien jy in sterrekunde belangstel, en klaar al die boeke in die bib (login: opac) daaroor gelees het, kry die Suider-Afrikaanse Astronomie-vereniging (ASSA) se jaarlikse publikasie Astronomical Handbook for Southern Africa in die hande. Bestel dit (ongelukkig net in Engels) van Die Eresekretaris, ASSA, Posbus 9, Observatory, 7935 (of bel 021-7612112). Die boekie is ook beskikbaar by die planetarium van die SA-Museum in Kaapstad. Dit bevat onder meer 'n opsomming (jaar-voorskou) van verskynsels van belang vir amateur-sterrekundiges. As ek reg onthou kos dit maar vyf rand.
Verder is die Amerikaanse tydskrifte Sky and Telescope, Astronomy, Scientific American en Science verpligte leesstof vir almal wat op hoogte wil bly met internasionale verwikkelings in dié veld. Dit bevat uitstekende foto's en verslae oor ruimtesendings en -projekte.
Dr. Saayman van die departement Fisika aan die US het 'n planetarium-program, Dance of the Planets, vir simulasies van die sterre en planete van toeka tot in die verre toekoms. Gooi 'n draai by hom en help kyk of ons nie 'n sterrekunde-vereniging op die been kan kry nie!
Die sleutel tot my naamgenoot in die komeetwêreld is 'n tuisgemaakte ses-duim reflektor wat ek 'n paar jaar terug by 'n ander fisika-dosent hier by die US oorgeneem het. Sy volging is egter nie na wense nie: wanneer ek tyd kry gaan die ratstelsel verbeter en geëlektrifiseer word. Die CCD-beeldtoerusting wat deesdae beskikbaar is maak dit 'n sonde om so 'n instrument te laat stof opgaar!