Uitsonderlike krieket-seisoen weens spanwerk
Aan die einde van die 1997–1998 seisoen hoor ek graag van mense wat nie saamstem dat ons die beste krieketspan in die wêreld het nie. Ons wen nie omdat ons die sterkste kolflys het nie; ons wen omdat ons die mees gebalanseerde krieket speel.
Van die eendag-wegwedstryde het ons 12 gewen (1 × Pakistan, 2 × Sri Lanka, 1 × Wes-Indië, 5 × Australië en 3 × Nieu-Seeland) en 3 verloor (1 × Nieu-Seeland en 2 × Australië). Tuis is 6 gewen (4 × Pakistan en 2 × Sri Lanka) en net 1 verloor (Sri Lanka). Dit lewer 'n totaal van 18 oorwinnings uit 22 wedstryde, vir 'n sukseskoers van 82%. In die proses het ons 2 uit 3 eendagreekse gewen en die derde een 1-2 in 'n driedubbele eindstryd verloor (nadat ons die uitspeelrondtes totaal oorheers het).
Weg het ons 1 toets gewen (Pakistan), 1 verloor (Australië) en 4 het onbeslis geëindig (2 × Pakistan en 2 × Australië). Tuis is 3 gewen (1 × Pakistan en 2 × Sri Lanka), 1 verloor (Pakistan) met 1 onbeslis (Pakistan). Van die 11 toetse wat gespeel is, is 4 dus gewen en 2 verloor. Daardeur is 2 reeksoorwinnings behaal (weg teen Pakistan en tuis teen Sri Lanka), 1 reeksnederlaag gelei (weg teen Australië) en een reeks gedeel (tuis teen Pakistan).
Die enigste werklike teleurstelling was die reeksnederlaag teen Australië (veral ná die algemene gevoel dat dit ons beste kans tot nog toe was om hulle op hul eie werf te looi). Was dit nie vir 10 verbroude vangkanse in die derde en finale toets nie (4 keer van Mark Waugh, wat die toets vir hulle gered het), kon hierdie reeks minstens gedeel word.
Ten spyte van die suksesvolle seisoen wek die oormaat internasionale krieket kommer. Ons plaaslike spelers kry nie genoeg blootstelling aan wêreldklasboulers soos Allan Donald en Shaun Pollock nie. Provinsiale krieket en klubkrieket gaan gevolglik agteruit en gevaarligte begin flikker vir die toekoms. Australië skeduleer blykbaar nie internasionale toere tydens hul plaaslike seisoen nie. Miskien moet ons hul voorbeeld volg.
'n Laaste klippie in die skoen: indien toernooi-organiseerders vir 'n oomblik van die geldkoffers vergeet sal hulle dalk besef dat die sterkste span die beste bepaal kan word as die een met die meeste oorwinings ná 'n rondomtalie-kompetisie. Dat dit juis nie so gedoen word nie het ons in die laaste Wêreldbeker en die onlangse driehoekige reeks in Australië bedroë daarvan laat afkom.