Agtergrond en bedrywighede
Het jy geweet dat die US-studenteraad MVVA laasjaar as die Beste Kultuurvereniging aangewys het? Doen gerus aansoek vir 1998 se komitee.
Maties Vriende van Afrikaans is middel-1995 gestig as tak van 'n nasionale vereniging, ook gesetel op Stellenbosch. Ons is onverbonde en pro-Afrikaans. Ons gun elkeen die bevordering van sy eie taal en kultuur sonder die miskenning van ander se regte.
Ons beywer ons vir die handhawing van Afrikaans op die kampus. Besighede (veral dié in die Neelsie) wat Afrikaans sy regmatige plek gun, sal in die toekoms prominensie op hierdie blaaie ontvang. Die taalverdeling op Radio Matie en Matie TV geniet ook ons aandag. Ons hou woelinge rondom die US-taalbeleid dop en wil bydra om te verseker dat Afrikaans nie ook hier tweede kom nie.
Ons ledekaartjie bied afslag by verskeie besighede en eetplekke wat Afrikaans tot sy reg laat kom. Lede word aangemoedig om hierdie ondernemings te ondersteun. Ook die jaarlikse MVVA-braai is 'n wenner: mense soos Daniël Hugo en Nico Nel het al by dié geleentheid kopstukke kom gesels.
MVVA, in samewerking met die US-Musiekdepartement, is tans besig met 'n projek om die FAK-sangbundel in MIDI-formaat op te neem en op die Internet beskikbaar te stel. Alles is nog eksperimenteel maar jy kan solank na Ons Blêrkas loer. Maak later weer 'n draai om meer uit te vind oor ons bedrywighede.