PSALM 130 Woorde: TOTIUS, Afrikaanse Psalm- en Gesangboek Musiek: Liederwysie; verwerk: G.G. CILLIÉ Uit dieptes, gans verlore, van redding ver vandaan, waar hoop se laaste spore in wanhoop my vergaan; uit diep van donker nagte roep ek, o Here, hoor, en laat my jammerklagte tog opklim in u oor! As U, o Heer, die sonde na reg wou gadeslaan, wie sou een enk'le stonde voor U, o Heer, bestaan? Maar nee, daar is vergewing altyd by U gewees; daarom word U met bewing reg kinderlik gevrees. Soos een wat op die mure as wagter uitgestel, gedurigdeur die ure met sy gedagte tel --só wag my siel, en sterker, gedurig op die Heer, tot Hy, die Ligbewerker, die nag in daagraad keer. Hoop, Isr'el, in jou klagte; vertrou, o volk, wat treur; sy guns verduur die nagte, sy heil breek eind'lik deur. Dan skyn 'n soete vrede: gans Israel word vry van ongeregtighede. Heer, doen ook so aan my! Liederwysie, soos opgeteken deur P.K. de Villiers. Die teks is opgeneem met die welwillende toestemming van die kopiereghouer: Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.