TROU Woorde: JAN F.E. CELLIERS Musiek: EMIEL HULLEBROECK; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS Ek hou van 'n man wat sy man kan staan, ek hou van 'n arm wat 'n slag kan slaan, 'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan! Ek hou van 'n man wat sy moeder eer, in die taal uit haar vrome mond geleer, die verraaiersgeslag in sy siel verag wat, haar verstotend, homself kleineer. Die oog wil ek sien wat 'n traan nog ween vir 'n heldegeslag, in hul rus daarheen, maar 'n blits van trou in die traan van rou, wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen. Vir my d'Afrikaner van durf en daad, wat mammon's eer en loon versmaad, sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land en 'n trap van sy voet vir laag verraad! O, 'k hou van 'n man wat sy man kan staan; ek hou van 'n daad wat soos donder slaan, 'n oog wat nie wyk, wat 'n bars kan kyk en 'n wil wat so vas soos 'n klipsteen staan! ----- Woorde en musiek: http://tortel.net/~lochner/blerkas/?lied=315