AFRIKAANSE WIEGELIEDJIE (Lamtietie, damtietie) Woorde: C.J. LANGENHOVEN Musiek: EMIEL HULLEBROECK; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS Lam-tie-tie, dam-tie-tie, doe-doe my liefstetjie, moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie! Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie. Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie. "Doe-doe-doe, bladertjies, slapenstyd nadertjies. Doe-doe-doe blommetjies, nag is aan't kommetjies", so sing die windjie vir blaartjies en blommetjies. Bo in die bloue lug flikker die sterretjies, hemelse brandwaggies, lampies van verretjies, wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies, wakend oor mensies en diertjies en boompietjies: "Wees maar gerustetjies, slaap maar met lustetjies!" So sing die sterretjies, stilletjies, verretjies, vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies! Onskuldig ogies en voetjies en handetjies, wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies! Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies, bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies. Bly maar by moedertjie, kindlief se hoedertjie. Slaap in haar arrempies, saggies en warrempies; doekies dan, doekies in moeder se arrempies! Opgeneem met die welwillende toestemming van die komponis en van die uitgewers G. Alsbach & Co., Amsterdam, uit Zes Liederen, 16de reeks, van Emiel Hullebroeck. ----- Woorde en musiek: http://tortel.net/~lochner/blerkas/?lied=310