DIE KABOUTERTJIES Woorde: ADELE JOOSTE; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: Volkswysie; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN "Kyk Mammie, ek wil gou eers groet voor ek gaan ry. My houtperd staan daar buitekant en wag vir my." "Ai, houtperd, jy kan skop! Kom, laat ons weggalop!" Klop, klop, klop, klop ry ons nou aan tot by die dam. Ek maak my perdjie vas daar aan 'n boom se stam. Hier woon my vriendjie Klaas, Kabouterland se baas. Sy matertjies is almal besig om te naai. Gebukkend sit hul daar en stik aan skoentjies fraai. Daar's rye kant en klaar; dalk gee hul my 'n paar. Ou Klasie, die kaboutertjie, stap na die kas. Hy haal daaruit 'n paartjie wat vir my net pas. "O, baie dankie tog! Nou sal ek lekker spog." "Kaboutertjies, dit is al laat, ek moet nou gaan. As ek nog langer bly sal Mammie nooit verstaan. Totsiens Kabouterspan! Bly lekker by die dam!" Volkswysie uit "Loelie se liedjies" van Adele Jooste.