DIE BOOTJIE NA KAMMALAND Woorde: EITEMAL Musiek: C.M. VON WEBER; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1977 Hoe sag gly ons bootjie, en wieg heen en weer op golfies wat dein oor die maanblanke meer! Met kommer en sorge gelaat op die land, wuif ons aan die vriende vaarwel met die hand. Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer, en wys ons die weg wat na Kammaland voer; dis oos van die son en dis wes van die maan, die land waar die jonkheid mos nimmer vergaan. Die sterre staan hoog aan die hemel op wag, en strooi oor die water hul tint'lende lag. Die windjie is wakker, hy suis langs ons oor en dans op die maanpad wat flikker hier voor. En ruisend kom sit op die agterskip nou die sluimer met albei sy vlerkies gevou. En wiegende kom ons in Kammaland aan, ver oos van die son en ver wes van die maan.