TERUG OP REIS VAN BANGKLOOF Woorde: M.L. DE VILLIERS; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: "Riding down from Bangor"; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS Terug op reis van Bangkloof met die Kaapse trein oor die springbokvlakte--arrie, dit was fyn!-- met 'n baardjie welig, groot ou snor daarby, sit student, 'n langbeen, skraal en blink is hy. Oorkant hom sit niemand; hy het glad geen maat. En die trein hou stil nou by 'n dorp se straat. Stokou paar klim in toe, maak hul oorkant tuis. Nooi'ntjie kom ook saamry, blosend, fraai en kuis. Blosend fyntjies vra sy: "Mag ek hier kom sit?" "Seker juffrou, seker." Maar toe dink hy dit: jammer van die paartjie wat ook saam moet ry: dink net aan die tonnel--Nooi'ntjie aan my sy! Lekker praat die tweetjies toe meteens--ai tog!-- tref kwansuis 'n kooltjie Kêrel in sy oog. Nooi'ntjie, vol meedoë draai haar liefies om: "Mag ek tog net inkyk of dit uit wil kom?" Toe gewaar die kêrel handjie fyn en teer, hoor die soetste klankie: "Maak dit baie seer?" Woer! Pardoems! Gedorie! tonnel onverwags. Nou's dit heerlik donker soos Egipte snags. Anderkant weer daglig, hare van die vent voorheen glad en netjies, staan mos nou orent. Arme nooi'ntjie bloos net, iets het haar verras. In sy baard, jou waarlik, sit haar oorbel vas!