GOUD EN SILWER Woorde: EITEMAL, na Aug. Schnezter, 1828 Musiek: Volkswysie; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS Goud en silwer het ek lief, met hul kartelrandjies-- lank aan Pa my bedelbrief, kort bly die kontantjies. Platsak sit ek tuis en kwyn--en ek sien van verre net die maan se silwerskyn, goudlag van die sterre, net die maan se silwerskyn, goudlag van die sterre. Nog veel mooier lonk die goud in gevulde kanne; wyn en lied is eeue oud, ewig jonk die manne. Carpe diem: ons was trou aan dié goue wysheid-- en ons sal dit nog onthou in ons silwer grysheid, en ons sal dit nog onthou in ons silwer grysheid. Maar die skoonste goud van al: lokke van die nooi'ntjies, soos 'n goue waterval van die goue kroontjies! Laat ons in dié heerlikheid net van soentjies lewe, voor die silwer van die tyd om die hofies bewe, voor die silwer van die tyd om die hofies bewe. Wie net een ou nooi'ntjie soen, een en niemand meer nie, teenoor ander skaamrig doen--hy het nooit studeer nie. Al die oorryp soentjies hang daar soos goue are; pluk hul voor die ryp hul vang in die silwerjare, pluk hul voor die ryp hul vang in die silwerjare. Liefste neem't nie kwalik nie as ek jou gehoon het deurdat daar nog twee of drie in my hart gewoon het. Goue onselfsugtigheid--daar's studente enig; eendag, in die silwertyd, min ek jou allenig, eendag, in die silwertyd, min ek jou allenig. "Carpe diem" beteken "slaan jou slag gou" of werklik: "gebruik die geleentheid gou". ----- Woorde en musiek: http://tortel.net/~lochner/blerkas/?lied=177