OM DIE KAMPVUUR Woorde: P. MCLACHLAN Musiek: Uit die Swartwoud; verwerk: P. MCLACHLAN Vriende kom, dis kampvuurtyd, someraand se heerlikheid; pak die houtjies kunstig saam, só lê ons 'n vuurtjie aan. Rokie draai, rokie swaai, net-nou sal die vonke waai; rokie draai, rokie swaai, nou-nou sal die worsie braai. Vlamme flikker teen die krans, goue vonkies malkop dans; kom ons maak 'n kampvuurkring, lag en skerts en vrolik sing. Houtjies kraak, houtjies skiet, begelei ons kampvuurlied; houtjies kraak, houtjies skiet, weg is sorge en verdriet. Kyk, die water kook mos nou; gooi die koffie in, maak gou! Neem 'n stompie, roer daarmee--moertjies sak dan na benee. Skink maar in, skink maar in, kampvuurkoffie na my sin, skink maar in, skink maar in, koffie vir 'n koningin! Is die vlamme uitgewoed, tuur ons in die kolegloed; stil word elke kampvuurmaat as die nag se stilte praat. Om die vuur, om die vuur sal die vriendskap altyd duur; om die vuur, om die vuur, nagtelike wonderuur!