LIEFDE VERLORE Woorde: D.F. MALHERBE na Von Eichendorff: "In einem kühlen Grunde" Musiek: F. GLÜCK, 1787 Waar't koel is en half duister kan jy die meul nog hoor; daar't ons in stil gefluister ons harte eens verloor, daar't ons in stil gefluister ons harte eens verloor. Sy't my gegee, beminde, haar woord, 'n ring, haar trou; haar trou weg met die winde, die ring is stukkend nou, haar trou weg met die winde, die ring is stukkend nou. My liefde lê in skerwe, ek weet nie wat ek wil: 'k sou liewerste wil sterwe, dan is't tog eenmaal stil, 'k sou liewerste wil sterwe, dan is't tog eenmaal stil.