AS DIE WINTER NADER KRUIP Woorde: EITEMAL, na Sterman: "Wie die Blümlein draussen zittern" Musiek: Volkswysie; verwerk: CHRIS LAMPRECHT Hoor die blomme en die blare bewend van die winter praat, doodgedoemde martelare, siek en van die son verlaat. O, bly by my, beminde teer, dan bloei in my die somerblomme weer, o, bly by my, beminde teer, bloei in my hart die blomme weer. Kyk hoe swaels uit alle oorde op die huis se dak vergaar voordat hul na warmer oorde hulle wintervlug aanvaar! O, bly by my, beminde teer, dan sing in my die somervoëltjies weer, o, bly by my, beminde teer, sing in my hart die voëltjies weer. Koud en klammig sak 'n swye van die dood oor veld en lug; as die winde deur die twye hul begrafnisdeuntjie sug. O, bly by my, beminde teer, dan ken my hart geen dood of winterweer, o, bly by my, beminde teer, dan sterf my somer nimmermeer.