NET 'N SOMERKINDJIE Woorde: EITEMAL; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: Volkswysie; verwerk: G.G. CILLIÉ Sy was 'n deel van daardie somer --ek was 'n eensaam digter, dromer-- maar ons was jonk en ons was bly, toe grassies groen oor veld en vlei, maar ons was jonk en ons was bly, toe grassies groen oor veld en vlei. Die blomme streel en soen haar voete, hul ogies lag met môregroete. Sy loop versigtig tussendeur: geen suster maak haar sussies seer, sy loop versigtig tussendeur: geen suster maak haar sussies seer. Rooivinke swier in lentetye swaai pantmanel deur riet en vleie. Ons harte't saam getierelier met al die voëls wat bruilof vier, ons harte't saam getierelier met al die voëls wat bruilof vier. Sy was 'n brokkie somerlewe soos vlinders wat oor blomme swewe, maar sy moes heen--ek wis dit al-- as d'eerste rooibruin blaartjie val, en sy moes heen--ek wis dit al-- as d'eerste rooibruin blaartjie val. Sy was 'n deel van daardie somer --en ek vir altyd digter, dromer-- want nuwe somers kom en keer maar daardie somer nimmermeer, want nuwe somers kom en keer maar daardie somer nimmermeer.