ANNIE HUGO Woorde: A.G. VISSER Musiek: "Annie Laurie", LADY SCOTT; verwerk: DIRKIE DE VILLIERS Franschhoekvallei is enig, die mooiste in die land; en daar het Annie Hugo aan my haar trou verpand, aan my haar trou verpand, wat nooit nie sal verflou, en aan mooie Annie Hugo bly ek tot die dood getrou. Bekoorlik is my Annie, so lenig en so slank; haar wange rooi soos rose, haar voorhoof lelieblank, haar voorhoof lelieblank, met oë hemelblou, en aan mooie Annie Hugo bly ek tot die dood getrou. My liefste is die Lente van minnelied en lus; 'n lied, 'n blom ontluik in elke tere kus, in elke tere kus! O Lelie, blank en blou! En aan mooie Annie Hugo bly ek tot die dood getrou.