MY NOOI'NTJIELIEF IN DIE MOERBEIBOOM Woorde: THEO W. JANDRELL Musiek: A. CONRADI; verwerk: PIERRE MALAN My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied, van liefdevuur en van lentedroom, van vreugde en verdriet? Kom af, my nooi, ek verlang na jou, soos blomme smag na die môredou. My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied? My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my minnelied? My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly? O waarom dan tog so skaam en skroom, of terg jy maar vir my? Daar's lag en lewe in sonneskyn; kom af, my nooi, eer die daglig kwyn. My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly? My nooi'ntjielief in die moerbeiboom, hoor jy my lied so bly? My nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor, van liefdevuur en van lentedroom, dit het haar hart bekoor. Ek sien daarbo, waar die blare roer, twee ogies laggend deur lower loer. My nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor; my nooi'ntjie het in die moerbeiboom my minnelied gehoor. Die begeleiding kan in plaas van op 'n klavier ook deur twee instrumente soos byvoorbeeld 'n fluit en fagot gespeel word. Dit kan ook as 'n instrumentale trio uitgevoer word deur die sangstem met 'n instrument te vervang. ----- Woorde en musiek: http://tortel.net/~lochner/blerkas/?lied=78