LAND, VOLK EN TAAL Woorde: A.G. VISSER; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: "Finlands Wald"; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1976 Land van die eike met heldergroen lower, ruisende graanveld en perlende wyn, waar elke môre met sonnegoud tower, skitt'rend die Suiderkruis nagliks verskyn. O, heerlik sonnig Land, aan u gasvrye strand bring ek die hulde van hart en verstand, O, heerlik sonnig Land, aan u gasvrye strand bring ek die hulde van hart en verstand. Volk uit die helde van eeue gebore, duldend geen dwingland, gehard in gevaar, waardig die vaders, die Geus, Hugenote-- wie kan u dade van durf ewenaar? O, stoere Voorgeslag, aan mannemoed en krag bring ons nou dankbare hulde vandag, O, stoere Voorgeslag, aan mannemoed en krag bring ons nou dankbare hulde vandag. Taal van my Moeder, geleer as my eie, staamlend gelispel as kind aan haar knie, wat ek geglo het, bemin en gely het ruis in u klanke as 'n soet melodie. O, dierbaar Moedertaal, as eens my dag ook daal hoor ek u nog weer vir laas, liefste taal, O, dierbaar Moedertaal, as eens my dag ook daal hoor ek u nog weer vir laas, laaste maal.