UIT DIE CHAOS VAN DIE EEUE Woorde: D.F. VILJOEN Musiek: STEPHEN H. EYSSEN Uit die chaos van die eeue het verrys 'n stoere volk. Met die durf van pioniere word ons nasiestryd vertolk. Met die polsslag van ons volksiel word ons dank jou toegedra. Deur ons sangers, skilders, bouers roem ons jou, Suid-Afrika. Ons sal handhaaf, ons sal opbou, ons sal hoog jou vaandel dra; ons sal sterk wees in ons Liefde vir ons Volk, Suid-Afrika. Hoor hoe skoon ruis oor ons velde soetste taal van klein en groot: eerste klanke in ons ore, en die laaste by die dood. Dis die taal van voorgeslagte, van die volksvergadersaal; op ons kansel, in ons howe klink die Afrikaanse taal. Ons sal handhaaf, ons sal opbou, ons sal hoog jou vaandel dra; ons sal sterk wees in ons Liefde vir ons Taal, Suid-Afrika. Een van hart en sin en strewe, vasvertrouend op die Heer, sal ons bou 'n toekoms heerlik op die skone van weleer. Uit die diepte van ons harte smeek ons vurig om gena om te hou wat ons verwerf het, om te bou, Suid-Afrika. Ons sal handhaaf, ons sal opbou, ons sal hoog jou vaandel dra; ons sal sterk wees in ons Liefde vir ons Land, Suid-Afrika.