'N AFRIKAANSE VOLKSLIED Woorde: C.P. HOOGENHOUT, A. PANNEVIS, D.F. DU TOIT, S.J. DU TOIT Musiek: W.J. VAN GORKOM; verwerk: G.G. CILLIÉ 'n Ieder nasie het sy land! Ons woon op Afrikaanse strand; vir ons is daar g'n beter grond op al die wye wêreld rond. Trots is ons om die naam te dra van kinders van Suid-Afrika. 'n Ieder nasie het sy taal, ons praat van Kaap tot in Transvaal wat almal maklik kan verstaan. Wat gaan die ander tale ons aan? Ons praat soos pa en oupa-pa, die landstaal van Suid-Afrika. 'n Ieder nasie het sy wet, wat goed gebied en kwaad belet; en elk se wet is na sy aard en gaan met sy natuur gepaard: So volg ons ook die sedes na, wat tuis hoort in Suid-Afrika. 'n Ieder nasie het sy reg, al is hy nog so swak en sleg. Daar is één Oog wat alles merk. Hy sit die onreg paal en perk, Hy kyk ook ons verdrukkers na en waak ook vir Suid-Afrika. 'n Ieder nasie het sy tyd om op te groei en af te slyt, en soos ons liewe Heer dit doen, so is dit altyd wys en goed. Daar kom 'n dag vir ons ook, ja; vertrou op God, Suid-Afrika. Want al die nasies het één God, Hy reël ieder volk se lot; Hy het vir ieder volk sy taal, sy land, sy reg, sy tyd bepaal. Wie dit verag sal sy straf dra. O God, beskerm Suid-Afrika! Die eerste vorm van "'n Ieder nasie het sy land" is deur Arnoldus Pannevis gemaak nog vóór die totstandkoming van die Genootskap van Regte Afrikaners, en as "Die Afrikaanse Volkslied" in "De Zuid-Afrikaan" van 7 Julie 1875 in Kaapstad gepubliseer. Lesers is genooi om dit te beoordeel en moontlike verbeterings aan die hand te doen. S.J. du Toit, sy broer D.F. ("Oom Lokomotief") en C.P. Hoogenhout het dit "verbeter", en die verbeterde vorm het in die heel eerste uitgawe van "Die Afrikaanse Patriot" (15 Januarie 1876) verskyn. W.J. van Gorkom, wat hierdie heel eerste poging om vir die Afrikaners 'n volkslied in hulle eie taal te gee van 'n melodie voorsien het, was tussen 1876 en 1878 direkteur van onderwys in die Z.A.R. en dus 'n voorganger in die pos van S.J. du Toit. Van Gorkom is in 1878 weer terug na sy geboorteland, Nederland.