DIE LADY ROBERTS Woorde: F.W. REITZ, op die oorlogsveld gedig Musiek: "The Irish Emigrant", GERARD W. BAKKER; verwerk: D. HYMAN Hier staan die Lady Roberts: Hoera vir Ben Viljoen! Hoera vir Gen'raal Muller! want hul't die ding gedoen. Die trekboer en boslanser,[1] die kom haar hier beskou, dan sê hul: Alle wêreld! Waar kry jul die ou vrou? Dan sê ons! die ou Lady is 'n nuwejaarspresent wat Ben Viljoen gestuur het vir ons ou President. Dan word die trekboer wakker en trek weer met sy goed, die arme ou boslanser, die kry dan ook weer moed. Lord Roberts is al huistoe. Die veldheer het getrap; sy vrou het hy laat blywe: sy hou van mieliepap. Van al ons arme mense brand hy die huise af. Die mans kan hy nie win nie, dus moet hy vrouens straf. Maar sy ou Lady Roberts, wat lidiet uit kan stort, stuur hy Helvesia toe en sit haar in die fort. Daar, dag hy, is sy veilig, want die verdekste Boer lê maar net agter klippers met sy verdekste roer. "Lady Roberts" was 'n bynaam vir 'n kanon wat die boeremagte onder generaal Ben Viljoen in die Oos-Transvaal van die Engelse buitgemaak het. [1] Naam deur generaal Ben Viljoen gegee aan lafhartige burgers wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog met hul vee na die Bosveld gevlug het in plaas van op kommando te bly (W.A.T.).